Selichot gebed vir ‘n nuwe seisoen.
Nuwe seisoene in die natuur is vasgestel en het sy eie ritme, maar die mens is geneig om weerstandig te wees wanneer verandering kom. So ook in ons geestelike lewe is ons geneig om vas te hou aan die ou ritmes sonder om aan te pas vir die nuwe seisoen.
Selfs ouderdoms verandering hou verband met nuwe seisoene, en hierdie nuwe seisoen met verandering is net negatief as jy nie die nuwe seisoen en sy ritmes met blymoedigheid ontvang en ingaan nie.
In Israel dien die nuwe jaar as ‘n tyd van verandering en dien waarlik as ‘n sleutelgetuie vir ons. Dis in hierdie tyd wat die selichot gebed plaasvind, selichot is ‘n gebed van vergifnis en fokus nie net om vergifnis van die Vader te ontvang nie, maar eerder om te verander en na die perfekte wil van God te wandel.
Om dit in perspektief te sien, is dit nodig om te verstaan dat die nuwe jaar nie die einde van ‘n jaar aankondig nie, maar eerder die begin van ‘n nuwe jaar. Die term “Rosh Hashanah” verwys na die hoof dag van die jaar en word ook beskou as die dag wat God die Hemel en aarde gemaak het. Die fokus is dus op dit wat volg vanaf die nuwe begin.
Die gebed van “selichot” (vergifnis) begin reeds van voor die nuwe jaar tot en met “Yom Kippur” wat die dag van berou of bekering is. Hierdie tydperk is 10 dae vanaf die eerste dag van Rosh Hashanah en Yom Kippur. Vir my is dit interessant dat die tyd tussen die laaste dag van Rosh Hashanah en voor Yom Kippur 7 dae is.
Hierdie gebed van “selichot” trek duisende mense per dag wat saam bid, en dan gaan die gebed oor in dans en lofsang in reaksie op geloof dat die gebede verhoor is. Nog ‘n les om te leer is dat dit nie sonde is om jou skuld te bely nie, want niemand van ons is perfek nie, hoewel ons strewe om na God se wil te wandel erken ons, ons afhanklikheid van God om ons te bekragtig.
‘n Mens mag vra, wat getuig nou eintlik. Die antwoord is die voorbeeld wat gestel word vir ons as liggaam van Christus. Die eenheid van geloof wat nie gekoppel is aan ‘n “bediening” nie, maar gekoppel is aan ‘n verhouding met ‘n lewende God en ‘n verwagting, dat as ons vra vir vergifnis ons gebede verhoor sal word, want ons kom in die naam van Jesus Christus. Ons word herhinder aan Jakobus 5vers16 ‘Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag!’
Tydens ons besoek aan die westelike muur, het die Vader die geleentheid geskep om ‘n ortodokse Joodse vrou te help dra aan haar kruideniers ware. Sy het aan ons bekend gemaak dat haar man nie so gesond is nie, en dit het die geleentheid vir gebed geskep. Wat weer opnuut uitgestaan het, is haar blymoedigheid om gebed te ontvang in die naam van Jesus Christus.



